Archive for the ‘Uncategorized’ category

Kersfees en Gewig!

Oktober 10, 2013

Dis vandag presies 75 slapies tot dit ou kersaand is en ook wanneer ons Weskus toe ry vir Kersfees en Nuwejaar by my swaer.

Dis so 10 weke waarin ek kan gewig verloor.

So harde werk wat voorlê!!!

Ek het sekere medisyne laasjaar begin gebruik wat my hormone heeltemal deurmekaar gemaak het en in die proses het ek ook 10kg opgetel! Nou het my pille verander, hormone is terug na normaal, maar nou is dit harde werk om die vetjies weer te verbrand. Sou so graag meer wou verloor, maar het 15kg uitgesit wat ek graag wil afhê vir die vakansie. Binne die eerste week het ek darem 2kg verloor – ja ek weet dis meestal net water, maar daar is nog baie water wat moet padgee en vet daarmee saam. Sal maar die mates ook dophou en sien dat dit ook verdwyn!

Kersfees persente is ‘n ander probleem. Ek voel ek moet vir my suster se 2 seuns ietsie gee en my man sê nee, ons is mos nie hier vir Kersfees nie, so hulle hoef niks te kry nie! Ek beplan ‘n koffiebeker met elkeen se naam en ‘n prentjie op wat spesiaal gemaak word teen R80 ‘n beker. Aanvanklik wou ek 10 bekers laat maak het, maar sal ma moet afskaal. Hoe nou gemaak en vir wie gee ek? So sal ek maar verder moet soek vir persente.

Vandag is 10 Oktober en baie mense gaan rooi balonne in die lug laat opgaan teen blanke moorde in ons land! Sou so graag wou deel wees van so veldtog, maar nou sit ek rustig by die werk en ousies oppas. Hoe ironies!!

Siek, siek, siek, siek…..

September 2, 2013

Hier waar ek sit en tik, klop my kop en my oë voel of hulle nie lekker kan fokus nie!! Ja die sinus het my ook beetgekry!

Ek het nogal vir almal gepreek, wat siek is, dat dit so gaan aanhou tot ons reën kry, en ja nou het dit my ook beet.

Hier in die Bosveld ly meeste mense maar aan sinus, dit verskil maar net hoe ernstig dit is. Gewoonlik word ek lekker siek hierdie tyd van die jaar en word so paar dae afgeboek.

Was nie lus om vanoggend na ons siekeboeg te gaan nie, maar sal nogal graag op my bed wil gaan lê!

Deurmekaar gedagtes!

Augustus 30, 2013

Ons het uiteindelik gister middag ons uitslae van die oudit gekry en ja ons is deur, net-net, maar ons is deur en doen eers weer oor ‘n jaar ‘n oudit!!  Baie verlig!!

Dis Vrydag vandag en ek sien eintlik uit na ‘n rustige naweek,  My meisiekind slaap by ‘n maatjie oor en gaan more na ‘n wildsveiling in Vaalwater.  Ek kan maar net hoop sy gedra haar en sal soet wees!  Gelukkig het sy al baie by die maatjie gekuier en dit het voorheen goed gegaa.  Die ma sê al my meisiekind is haar tweede dogter.

Ek sukkel deesdae verskriklik met my gewig.  Het sommer in 4 maande 14kg opgetel!  Ja, dis VERSKRIKLIK!!!  Ek skaam my dood. En dis nie oor ek teveel begin eet het nie, nee.  Ek skryf dit toe aan my anti-depressante.  Dr Rangaka het laas vir my gewys die een pil kan my hormone deurmekaar maak en gewig laat optel.  Hy het toe my medikasie verander en hopelik gaan dit nou beter.  Maar die gewig gaan seker nie sommer net so verdwyn nie, ek sal seker nou effort moet insit om van dit ontslae te raak!! Argghh!!!

Dan is ek nogsteeds nie happy met my huidige werk nie.  Verstaan my mooi, ek hou van die maatskappy en die mense is fine, dis net die spesifieke WERK wat ek moet doen.  Ek is iemand wat hou van werk, gee my papiere en ‘n rekenaar en eks happy.  Moenie vir my mense gee nie en ek sal nog ‘n telefoon kan hanteer.  Maar op die oomblik het ek so min admin om te doen dat ek teen 10:00 op ‘n dag klaar is en dan sit en wag vir die volgende dag!  Dit dryf my teen die mure uit.  Daar was al ‘n paar poste in die admin kantoor oop, maar die baas wil my nie skuif nie.  Die klere wat ek dra is ook afgryslik, maar ek moet.  Dink dit laat my nog vetter lyk!!!!  Dit sal ‘n groot droom bewaarheid as ek na die admin kantoor kan skuif en hul pakkies kan dra, maar nie al mens se drome kom waar nie.

Gelukkig is dit Vrydag!  Het ek dit al gesê!!!

‘n Vriendin van my verjaar vandag!  Ek wens haar net al die beste toe vir die volgende jaar.

Nou moet ek maar bietjie deur die oudit verslag werk en kyk waar ons oral tekort geskiet het!

WAG!!!!

Augustus 29, 2013

Eks moeg gewag!!

Dit voel baie keer of ek my lewe om wag!

As ek nie wag vir die tyd om verby te gaan om ‘n sekere tyd na iets te moet doen nie, wag ek dat my man of kind klaar maak met iets m aan te gaan met iets anders.

By die werk wag ek rêrig dat die tyd omgaan!! Eks hieper verveeld in my huidige pos en sit meestal en wag vir die dag om klaar te maak. Loop dalk so bietjie rond, maar wag verder.

Op die oomblik wag ek vir die uitslae van ‘n oudit wat ons laasweek Maandag gehad het. Ons behoort die uitslag binne 7 werksdae te kry, maar ons wag nog.

Everything happens for a reason…..

Augustus 27, 2013

536789_423178061124496_711646814_n[1]

Somtyds wens ek ook net ek het geweet wat die rede is.
Somtyds wens ek net ek kan die wiel sien draai
Somtyds wens ek, ek kon dinge anders gedoen het

Ek glo alles in ‘n mens se lewe gebeur met ‘n rede, jy ontmoet mense vir ‘n rede, jy verloor mense.

Ons is elkeen op aarde vir ‘n rede. soms wil ek net so bietjie vooruit sien wat my rede vir bestaan is. Waar pas ek nou eintlik in, wat is ek nou eintlik veronderstel om waar te doen. My lewe is ‘n mengelmoes van verskillende werke, min goeie vriende en baie wag.

Om te wag het seker ook sy redes, maar dit voel soms of ek nie my lewe kan LEWE nie, ek moet wag dat iets eers gebeur.

Wil graag……

Augustus 26, 2013

Daar is so baie wil graags… in my lewe, maar die meeste voel onuitvoerbaar ver.

Ek wil graag:
Maer word
Motorfiets ry
Fiks word
Die comrades hardloop
Al my halwe naaldwerk projekte klaarmaak
En sommer nog baie ander!!!

Iemand het laasweek gesê dat enige avontuur begin met die eerste tree!

So wanneer gee jy daardie eerste tree?

Moet als eers ‘reg’ wees, ny jou ‘tyd’ inpas?

Ja, gee net die eerste tree en jy het alklaar begin!!

Weer probeer……

Augustus 23, 2013

Soveel dae, soveel dinge.

Daar gebeur elke dag so baie dinge in mens se lewe wat jy nie altyd verstaan nie.

Wat het jy by vorige maatskappye geleer? Ek het nou al by redelik baie plekke in my lewe gewerk en glo ek het ‘n les by elkeen geleer. Ek dink ek was baie naief gewees en het ongelukkig op die moeilike manier geleer om nie altyd almal te vertrou nie. Ander kere het ek weer geleer dat jy maar net ‘n nommer is en solank jy jou werk doen soos ander dit wil hê is die Kaap Hollands. By nog ‘n werk het ek geleer om dankbaar te wees vir die kleinste dingetjies.

Ongelukkig by die einste werk waar ek dankbaarheid by die 1 afdelingshoof leer, leer ek ook weer geduld en verdraagsaamheid by ‘n ander. (moet seker gelukkig wees?!)

Ek doen op die oomblik ‘n werk waarvan ek NIKS hou nie!!!!!! Ek het al verskeie kere gevra om in dieselfde maatskappy net na ‘n ander afdeling geskuif te kan word, maar telkemale sonder sukses. Wat my hart sooooo seer maak, is die perfekte pos is nou geskep, ek het weer gaan vra en die antwoord was weereens nee. Net die volgende week hoor ek daar is iemand van buite aangestel. Dit is genoeg om my moed te breek.

Gister het Radio Jacaranda gevra of jou werk jou dood kan beteken? Wel op hierdie stadium glo ek, ek is besig om stukkie vir stukkie te sterf! Die werk wat ek nou doen, word ge-oudit, en die spanning aangaande dit maak my gedaan! Deels omdat ek nie die nodige kennis het om die werk te doen nie en daar heeltyd vir my vertel word ek MOET dit net doen. Ons wag nou vir die uitslag van die oudit en dit vat meers as ‘n week waarin my spanningsvlakke heeltemal te hoog hardloop.

As ons nie vir die oudit voorberei nie, het ek weinig om te doen en wag die tyd om! Dit maak my ook dood, as ek sien waar ek oral kan help en wil help maar nie mag nie. Daar is so baie wat ek by my huis wil doen, maar in die aande is ek net eenvoudig te moeg gewag vir die dag om verby te gaan, so ek sit maar weer en wag!

Ja, ek weet als is nou baie negatief, maar ek was heel positief vanoggend en toe sien ek die nuwe dame se nuwe rekenaar word uitgepak en dit moes myne gewees het!!!

Tweede kanse!

Maart 12, 2012

Ek wil graag weer blog – het so baie wat in my kop aangaan, maar weet nie lekker waar om te begin nie!

Ek het lanklaas geblog, probeer die afgelope tyd so bietjie by ander inloer, maar gaan maar moeilik.

Vandat ek laas hier was het so baie dinge ook verander:  Nuwe werk, nuwe uitdagings, eksamen agter die rug, ens.

Deesdae dink ek baie aan 2de kanse.  Wat bedoel ek?  Wel dit voel vir my of so baie mense 2de kanse kry, dit benut en gelukkig is.  Ek voel vasgevang, eensaam, alleen.  Dit is ook hoekom ek voel om my blog ‘n 2de kans te gee, dalk is ek meer ‘betrokke’ by hom, meer ‘hier’, meer ‘by’!

Ek het by my vorige werk bedank na erge viktimisasie waaraan ek net eenvoudig NIKS kon doen nie.  Die vrou het sover gegaan om my van diefstal te beskuldig.  Ongelukkig het die baas se seun, wat veronderstel was om die MD te wees, nie die ‘balls’ gehad om vir my op te staan nie.  Ja, dit was ‘n moeilike tyd vir my en ek dink ek ly eintlik nou nog onder al die gebeure, al het dit 11 maande terug gebeur!

Party dae voel ek ok, maar ongelukkig is hierdie ‘n klein dorpie en loop mens heeltyd in die mense vas, hier is net 1 skool en die baas se seun se dogtertjie en my dogtertjie is ewe oud!  Hier is net 1 behoorlike winkel, so as jy na 5 daar in gaan, is die kanse goed dat jy van die ander werkers raakloop!

Ek is baie gelukkig by die werk waar ek nou is (omstandighede hier is 110% beter as by vorige werk), en het dit ook vinnig gekry!  Net 1 oproep, 1 onderhoud en die werk was myne.  (moet sê die aansoeke vir die pos het eintlik al gesluit, maar die ou het my al voorheen werk aangebied wat ek op daardie tydstip nie kon vat nie).

Ongelukkig is die werk wat ek nou doen, gladnie in my lyn van ondervinding of belangstelling nie.  Dit maak dit nogal moeilik.  Ek leer elke dag ietsie, maar is nie werklik gestimuleer nie.  Dit is waar ek nou by 2de kanse uitkom:  Dalk moes ek maar nog bietjie vasgebyt het by vorige werk, dalk ‘n 2de kans gekry, of gegee het.  Maar in retrospek het ek baie kanse gegee, baie kere reguit met die vrou gepraat en gevra wat ek dan kwansius verkeerd doen, want die klagtes was altyd so nikssegends.  Wat my ook seer maak op die oomblik, is om te hoor dat daar omtrent 3 of 4 vrouens nou die werk doen wat ek alleen moes doen!  Ek het hoeveel keer gevra dat my las verlig moet word, of daar nie iemand is wat kan help nie, maar die antwoord was altyd NEE en met elke personeel vergadering het daar net nog so stukkie bygekom.  Die vrou wat by my oorgeneem het, het nie ‘n eers week gehou nie, toe word die eerste hulp aangestel!  Maar tog, mis ek die besigbly, die challenge wat ek gehad het!  Nou is ek verveeld!!!!

Partykeer wens ek dat mens net so bietjie in die toekoms kon insien – net so bietjie, net om te weet wat voorlê!  Miskien net more, oormore, volgende jaar – sit ek nog hier en verveel my dood, het ek dalk aanbeweeg, het ek ‘n nuwe uitdaging??????

Hierdie ‘nuwe’ blog is meer om my eie ‘besige’ gedagtes neer te pen, so as jy nie alles verstaan nie, verskoon maar.  My kop is so vol vrae, smagtings, wense, drome wat ek te bang is om te droom, vrese, dat ek net voel ek moet dit iewers kan uitlaat.  Onlangs is ek ook weer seergemaak deur iemand wat haarself my vriendin genoem het.  Ek voel dat as jy iets persoonliks, vertrouliks vir my vertel ek dit nie eers met my man bespreek nie.  Duidelik voel almal nie so nie!  Ongelukkig het die ‘vriendin’ gal afgegaan teenoor my oor haar man, ek het ook maar ‘n laagtepunt gehad en gal afgegaan oor myne.  Sy draai toe mooitjies om en vertel haar man alles wat weer op sy beurt alles aan my man vertel.  Nodeloos om te sê ek hanteer haar nou baie ysig – bespreek net die minimum en deel geen, maar geen persoonlike inligting meer met haar nie.

Ongelukkig is ek die tipe mens wat goed met IEMAND moet deel – enige iets, iets wat my seermaak, blymaak, opgewonde maak, bang maak, ens.  Op die oomblik voel ek net soooo alleen.  So asof niemand luister nie, so asof ander nie tyd het vir my treurmares nie, maar ek altyd beskikbaar moet wees vir hulle sin.  So jammer weereens as jy hier lees!

Daar is so baie wat ek wil verander aan myself, my gewig is natuurlik nog ‘n groot issue!  Ek voel altyd of ek hierdie konserwatiewe stywe ou vrou is.  PG du Plessis het Saterdag op Ontbytsake gesê dat mens soms bietjie stout moet wees, nie so altyd alles reg doen nie, want dan is die lewe boring.  Nou ja dit is nou presies hoe ek nou voel – my lewe is boring.  Ek wou al lankal begin draf, maar nie alleen in hierdie dorpie nie, hier skinder die mense teveel! Wat kan ek doen, wat rêrig ‘out of the box’ sal wees, maar nogsteeds kuis en ordentlik!?  (Sien my probleem)

Nou ja my nuwe werk vereis dat ek so nou en dan moet laat werk.  Dit is nou reeds 19:32 en ek is nog hier.  My meisiekind skryf more ‘n toets, en ek hoop sy en haar pa kan net die strydbyle begrawe vir vanaand sodat sy kan leer!  Sal maar gaan kyk, as ek hier klaar is, en die stukke optel!

Tot volgende keer!!!! Dankie blog, dat jy geduldig vir my gewag het!!!!!

Dit klink so maklik!

Mei 26, 2009

Ja, as ons Sondae in die kerk sit en die Dominee praat met mens, klink alles so maklik uitvoerbaar en jy voel soos ‘n sondige en sommer ‘n idioot, want hoekom kan jy nie so lewe nie.  MAAR……..

Ja, die groot MAAR.  Maar as jy uit die kerk uitstap, stap jy in die werklikheid in van mense wat kinders steel en molesteer, van mense wat moor en verkrag, van mense wat op jou trap om raakgesien te word, van mense waarvoor geld baie belangriker is as ‘n lewe, van mense wat wil hê jy moet sy/haar gat lek anders is en bly jy die verkeerde een, en so kan ek seker maar aangaan met baie voorbeelde en jy kan selfs ‘n paar bysit.

Een van die vrouens wat saam met my werk het nou die dag genoem dat ek en sy die enigste in hierdie admin kantoor van so 7 mense is wat gereeld kerk toe gaan en elke dag Stiltetyd hou.  Dit was eintlik vir my skokkend toe ek dit hoor, maar so waar toe ek later daaroor dink.  Ek het nou die dag die oulikste e-pos gekry, iets van om net kerk toe te gaan, jou nie ‘n plekkie in die hemel waarborg nie, nee jou lewe en jou verhouding met die Here is baie belangriker.

Moet my nou nie verkeerd verstaan nie, my lewe is alles behalwe wat dit moet wees, ekself is ook maar baie vol foute en vol sonde.  Dit is net asof mens baie keer aanneem dat die mense om jou se lewe reg is!  Ek probeer my bes om reg volgend Christelik standaarde en waardes op te tree en mense met respek te behandel, maar as dit voel of almal op jou trap en jou niks gun nie, dan raak dit moeilik om reg op te tree??!!

Ons is die week besig met Pinkster byeenkomste by ons kerk en ons woon die Tiener deel by.  In die 5 dae gaan ons na verskillende lande kyk.  Gisteraand was Israel aan die woord.  Hulle oorlog, verskeidenheid van gelowe, ens.  Skielik het ek net besef hoe bevoorreg en veilig ons eintlik nog in SA is.  Ons kan nog veilig in die aand kerk toe gaan en hoor nie heeltyd bomme en gille ens. rondom ons nie.  Ons kan die Here nog kliphard loof en prys en aanbid, hoef nie iewers in ‘n stegie te moet skuil nie.

Die Dominee vra toe hoe tree ons op as daar ‘n nuwe kind by die skool inkom of as iemand deel wil word van jul click?  Laat jy hom welkom voel of skuif jy hom uit?  Dit het my nogal laat dink.  Ek sal gewoonlik op ‘n funksie met die persoon praat wat half vreemd lyk en haar op haar gemak wil laat voel.  Maar dit klink so maklik om nou te sê jy moet dit doen.  Ek is ‘n eenkant mens, so ek deel nie in die groot hansworse nie, so ek sien die een raak wat alleen is.  Maar as jy nou ‘n go-getter is of die centre of attraction – sien jy so iemand raak?  hoe tree jy teenoor so iemand op? 

Kyk die wêreld is baie wreed, as jy nie jou mond kan oopmaak en praat nie, sal niemand van jou weet nie!  Is dit nie maar die geval nie?  Ek het dit al ervaar as ek vreemd op ‘n funksie is.  Niemand gee werklik aandag aan jou nie.  Elkeen lewe vir homself.

Selfs by die werk ervaar ek dit.  Die een wat die baas die langste ken, of die naaste aan die baas of sy seun is, is die een wat die meeste regkry.  Jy wat in jou hoekie sit en jou werk doen, is die een waarop neergekyk word en met minagting behandel word.  Hoe dan gemaak?

So ja, dit klink baie makliker om reg te lewe as wat dit is!!

Vrugteboom vrou

Mei 13, 2009

My lewe is baie op en af op hierdie stadium.

Manlief het die MMC bygewoon, vir die eerste keer, hierdie jaar. Op ‘n stadium wou hy nie meer gaan nie, want ons finansies druk bietjie op die oomblik, maar ekke het maar ‘n plan gemaak en gevoel hy MOET gaan.

Dit is net jammer dat mense wat jy gedink het vriende is en op wie jy kan reken, jou nou die rug keer en selfs op en aanmerkings maak omdat jy by MMC was. Kyk dit het wondere vir my man gedoen, ek ek loof die Here dat Hy in hom werk. Maar ai die satan bly lustig!

Ek doen op die oomblik werk wat ek nie wil doen nie, verkope en ontvangs. Van al die tipe werke wat ek al gedoen het is dit nou die laaste 2 opsies wat ek wil doen. Ongelukkig moet ek werk en het ek nie juis ‘n groot keuse van werk hier in onse ou dorpie nie. Daar word poste in die nabye toekoms by die Ammunisie Depot geadverteer, waar my man werk, en ek is nogal tempted om aansoek te doen. Die probleme: dit is amper 40km uit die dorp, sal moet reëlings tref vir my dogtertjie, my salaris sal met amper R1000 val, ek en die klomp anties by die depot het al bietjie koppe gestamp, so ek gaan nie maklik aanvaar word nie, het darem so paar vriendinne ook daar. So hierdie is werklik vir my ‘n gebedsaak!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!!

Hoekom moet mens se lewe so gekompliseerd wees? My liewe suster is nou weer betrokke in ‘n verhouding en sy en haar seuns bly amper meer by die ou en sy kinders as by haar eie woonstel. Sy was destyds die een wat ‘n bek vol gehad het oor my boetie en sy verloofde wat saam ingetrek het en nou doen sy amper dieselfde. Kyk dit pla my min wat sy doen, maar my ouers is baie seergemaak en ontsteld – hulle is nog baie konserwatief!!

Ek wens ek kon ook ‘n sorgelose lewe gehad het, finansieël in ‘n groot mate veral op hierdie stadium.

Maar ja, daar is ‘n doel met alles en hierdie gevoel sal seker ook verbygaan.

Ek wil graag ‘n vrou wees
Wie se takke swaar hang
Van die vrug van die Gees,
Ek wil liefde, vreugde, vrede,
Geduld, vriendelikheid,
Goedhartigheid, getrouheid,
Nederigheid en selfbeheersing
Deel van my lewenswyse maak,
Sal U my asseblief help?
Want self, Here,
Is ek hoegenaamd nie
Daartoe in staat nie.